Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:22-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. “Wanneer mans met mekaar baklei en hulle 'n swanger vrou omstamp, sodat sy 'n miskraam het maar nie blywend beseer is nie, moet hy wat haar gestamp het, onderhewig aan die goedkeuring van die regbank, die boete betaal wat die eggenoot van die vrou hom oplê.

23. As sy blywend beseer is, is die straf: 'n lewe vir 'n lewe,

24. 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet,

25. 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond en 'n kneusplek vir 'n kneusplek.

26. “Wanneer 'n man sy slaaf of slavin op die oog slaan en dit blywend beskadig, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die oog.

27. As hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die tand.

28. “Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou doodstoot, moet die bees met klippe doodgegooi word, en sy vleis mag nie geëet word nie. Daar is nie 'n saak teen die eienaar van die bees nie.

29. As die bees tevore al stoterig was, en die eienaar se aandag daarop gevestig is, maar hy dit nogtans nie behoorlik oppas nie, sodat dit die dood van 'n man of 'n vrou veroorsaak, moet die bees met klippe doodgegooi word. Die eienaar van die bees moet ook doodgemaak word.

30. As hy egter loskoopgeld moet betaal, moet hy alles wat hom opgelê is, betaal as afkoopgeld vir sy lewe.

31. As 'n bees 'n seun of 'n dogter stoot, moet volgens dieselfde regsbeginsel gehandel word.

32. As 'n bees 'n slaaf of 'n slavin doodstoot, moet drie honderd en veertig gram silwer aan die eienaar betaal word, en die bees moet met klippe doodgegooi word.

33. “Wanneer 'n man 'n put oop laat of wanneer hy 'n put grawe en dit nie behoorlik toemaak nie, en 'n bees of 'n donkie val daarin,

34. moet die eienaar van die put vir die verlies vergoed; hy moet die eienaar van die dier uitbetaal en die dooie dier kan hy vat.

35. “Wanneer 'n man se bees iemand anders se bees doodstoot, moet hulle die lewende bees verkoop en die geld gelykop onder mekaar verdeel; ook die dooie dier moet gelykop verdeel word.

36. Of as dit bekend is dat die bees tevore al bakleierig was, maar sy eienaar dit nie behoorlik opgepas het nie, moet hy 'n ander bees in die plek van die dooie bees gee. Die dooie dier sal syne wees.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21