Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15. “Jy mag nie steel nie.

16. “Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.

17. “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

18. Toe die volk die donderslae en die klank van die ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien, het hulle van angs gebewe en op 'n afstand bly staan.

19. Hulle sê toe vir Moses: “Praat jý liewer met ons, en ons sal luister. Moet tog nie dat God met ons praat nie, want dan sal ons sterf.”

20. Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want God het gekom om julle te toets. Hy wil hê julle moet ontsag hê vir Hom en nie sondig nie.”

21. Die volk het op 'n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.

22. Toe sê die Here vir Moses: “So moet jy vir die Israeliete sê: Julle het nou self ervaar dat Ek uit die hemel met julle kom praat het.

23. Julle mag nie gode uit silwer maak om my plek in te neem nie. Julle mag ook nie vir julle gode uit goud maak nie.

24. Julle moet vir My 'n altaar van grond bou en julle brandoffers en maaltydoffers uit julle kleinvee en beeste daarop bring. Op elke plek waar Ek my Naam wil laat aanroep, sal Ek na julle toe kom en julle seën.

25. “As julle 'n altaar van klip vir My wil oprig, mag julle dit nie van gekapte klip bou nie. Sodra julle met die beitel daaraan kap, sal julle dit ontwy.

26. “Julle mag nie met trappies na my altaar toe opklim nie, sodat julle julle nie by my altaar ontbloot nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 20