Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:15-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby 'n vrou kom nie.”

16. Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en 'n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van 'n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe.

17. Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18. Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van 'n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud,

19. en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20. Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim,

21. en die Here het vir hom gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf.

22. Selfs die priesters wat gewoonlik in my teenwoordigheid kom, moet op 'n afstand bly of anders sal Ek hulle laat sterf.”

23. Moses het die Here geantwoord: “Die volk kan nie Sinaiberg bestyg nie, want U self het ons gewaarsku om 'n grens rondom die berg vas te stel en daarvan af weg te bly.”

24. Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan nou af en kom dan saam met Aäron terug. Die priesters en die volk mag nie deurbreek en opklim na My, die Here, toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”

25. Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19