Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom.

2. Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg.

3. Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:“So moet jy vir die nageslag van Jakob sê,vir die Israeliete vertel:

4. “ ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het.

5-6. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, 'n koninkryk wat My as priesters dien, en 'n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

7. Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8. Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.

9. Toe het die Here vir Moses gesê: “Ek kom na jou toe in 'n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”Toe Moses alles wat die volk geantwoord het, aan die Here gaan meedeel het,

10. het die Here ook nog vir hom gesê: “Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was.

11. Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk.

12. Jy moet rondom die berg vir die volk 'n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13. “Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met 'n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14. Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was

15. en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby 'n vrou kom nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19