Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Julle moet elke eersgeborene aan My wy, elke eersteling wat in Israel gebore word, mens en dier. Dit is Myne.”

3. Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie.

4. “Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib.

5. Die Here het met 'n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom:

6. sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet, en die sewende dag is 'n feesdag tot eer van die Here.

7. Dit moet beslis ongesuurde brood wees wat julle die sewe dae lank eet. Dan mag daar geen gis of enige suurdeeg by julle in julle hele gebied wees nie.

8. Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is oor wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’

9. Die fees moet vir julle wees soos 'n teken op die hand of 'n merk op die voorkop sodat julle altyd sal getuig dat die Here Hom aan julle geopenbaar het, want dit is met sy groot mag dat Hy julle uit Egipte bevry het.

10. Julle moet hierdie voorskrif van jaar tot jaar op die bepaalde tyd nakom.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 13