Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:27-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”Toe het die volk in aanbidding gebuig.

28. Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

29. Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere.

30. Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie.

31. Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het!

32. Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”

33. Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!”

34. Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra.

35. Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis.

36. Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

37. Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet.

38. Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12