Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:17-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.”

18. Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gebid.

19. Toe laat die Here die wind verander in 'n sterk westewind wat die sprinkane opgeskep het en in die Rietsee gegooi het. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egiptiese gebied oorgebly nie.

20. Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, en hy het die Israeliete nie laat gaan nie.

21. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op, dan sal dit donker word in Egipte, so donker dat 'n mens dit kan voel.”

22. Moses het toe sy hand in die lug opgesteek, en drie dae lank was dit pikdonker oor die hele Egipte.

23. Die mense kon mekaar nie sien nie en drie dae lank kon niemand iets uitrig nie, maar in al die woongebiede van die Israeliete was daar lig.

24. Toe laat die farao vir Moses roep en sê: “Gaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly.”

25. Maar Moses sê: “U sal tog nie vir ons brandoffers en ander diereoffers gee om aan ons God, die Here, te bring nie!

26. Daarom gaan ons vee beslis met ons saam. Daar bly nie 'n kloutjie agter nie. Ons moet van die vee gebruik om ons God, die Here, te dien en voordat ons daar aankom, weet ons nog nie met watter offer ons Hom sal dien nie.”

27. Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, sodat hy hulle nie wou laat gaan nie.

28. Toe het die farao vir Moses gesê: “Maak dat jy hier wegkom! Sorg dat ek jou nie weer sien nie, want die oomblik dat ek jou weer sien, sterf jy!”

29. Moses het geantwoord: “Soos u sê: u sal my nie weer sien nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10