Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie.

12. As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon,

13. dat jou grootvee en jou kleinvee baie word, dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word,

14. en dat jy dan hoogmoedig word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

15. Dit is Hy wat jou laat trek het deur hierdie groot en gevaarlike woestyn vol giftige slange en skerpioene, dit is Hy wat vir jou water uit die klipharde rots laat vloei het in hierdie dor land sonder water

16. en wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorvaders nie geken het nie. Hy het jou laat swaarkry om jou op die proef te stel en om agterna weer aan jou goed te doen.

17. Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.

18. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.

19. “As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat jy beslis tot niet sal gaan.

20. Omdat jy dan nie gehoorsaam is aan die woord van die Here jou God nie, sal jy net so omkom soos die nasies vir wie die Here laat omkom het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8