Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 6:8-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees.

9. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

10. “Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie,

11. huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê.

12. Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie.

13. Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam 'n eed aflê.

14. “Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,

15. want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee.

16. “Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie.

17. Julle moet die gebooie van die Here julle God, sy verordeninge en sy voorskrifte, wat Hy jou gegee het, stiptelik gehoorsaam.

18. “Doen wat reg is in die oë van die Here, sodat dit goed kan gaan met jou en dat jy die goeie land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, kan ingaan en in besit neem,

19. dat jy al jou vyande kan verdryf soos die Here belowe het.

20. “Wanneer jou seun jou in die toekoms vra: Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het?

21. moet jy hom antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry

22. toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het en rampe oor Egipte laat kom het, oor die farao en sy hele huis.

23. Maar vir ons het die Here daarvandaan laat wegtrek om ons in hierdie land te bring en dit vir ons te gee soos Hy aan ons voorvaders met 'n eed belowe het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 6