Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.

2. Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit.

3. Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe.

4. Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat.

5. Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie.“Die Here het gesê:

6. “ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

7. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8. “ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.

9. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,

10. maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5