Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat.

2. As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.

3. So moet jy ook maak met 'n donkie of 'n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit. Jy mag nie onverskillig staan daarteenoor nie.

4. Jy mag nie onverskillig staan teenoor 'n donkie of 'n bees van jou volksgenoot as jy dit sien val nie. Jy moet hom die dier help optel.

5. “'n Vrou mag nie mansklere dra nie, en 'n man mag nie vrouensklere aantrek nie. Die Here jou God het 'n afsku van mense wat dit doen.

6. “Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7. Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.

8. “Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.

9. “Jy mag nie 'n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom.

10. “Jy mag nie 'n bees en 'n donkie saam voor 'n ploeg inspan nie.

11. “Jy mag nie 'n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.

12. “Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22