Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 21:17-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die man moet die seun van die vrou van wie hy nie hou nie, as oudste erken deur aan hom 'n dubbele deel van alles te gee. Hy is die eersteling van die man se manlike krag, en die reg van die eersteling kom hom toe.

18. “Wanneer 'n man 'n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom,

19. moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort.

20. Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is 'n vraat en 'n suiplap.’

21. Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.”

22. “Wanneer iemand tereggestel word vir 'n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan 'n paal op,

23. mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek. Jy mag nie die land wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee is, verontreinig nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 21