Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Ses dae moet jy dan nog ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle tot eer van die Here jou God saamkom. Op hierdie dag mag jy geen werk doen nie.”

9. “Jy moet sewe weke bereken van die dag af dat jy jou graan begin oes.

10. Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God. In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy 'n vrywillige offer vir Hom bring.

11. In die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete wat in jou omgewing woon, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees by jou.

12. Jy moet altyd onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Onderhou al hierdie voorskrifte en leef daarvolgens.”

13. “Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het.

14. Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.

15. In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met 'n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees.

16. “Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie.

17. Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”

18. “In elke dorp wat die Here jou God vir jou gee, moet jy regters en amptenare aanstel. Hulle moet die volk billik regeer.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16