Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:15-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met 'n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees.

16. “Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie.

17. Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”

18. “In elke dorp wat die Here jou God vir jou gee, moet jy regters en amptenare aanstel. Hulle moet die volk billik regeer.

19. Jy moet die regspraak sy loop laat neem en vir niemand partydig wees nie. Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat van beter moet weet, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.

20. Jy moet alleen laat geld wat reg is. Dan sal jy bly lewe en die land wat die Here jou God vir jou gee, in besit neem.”

21. “Jy mag nie 'n gewyde paal inplant langs die altaar wat jy vir die Here jou God gebou het nie.

22. Jy mag ook nie vir jou 'n klippilaar oprig nie, want die Here jou God haat sulke goed.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16