Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 13:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer 'n profeet of iemand wat drome uitlê by jou kom en vir jou vertel van 'n teken of 'n wonder,

2. en die teken kom uit of die wonder vind plaas soos hy gesê het, en hy dan op grond daarvan vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie,’

3. moet jy nie na hom luister nie. Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel.

4. Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.

5. Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word, want hy het jou aangehits om in opstand te kom teen die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het en jou bevry het uit die plek van slawerny. Daardie man wil jou laat optree in stryd met die wil van die Here jou God wat Hy aan jou geopenbaar het. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

6. “Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy en jou voorvaders nie geken het nie,

7. gode van die volke in jou omgewing, gode wat naby is of ver, gode in die een uithoek van die land of in die ander uithoek.

8. Dan mag jy nie voor hom swig en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon en wegsteek nie.

9. Jy moet hom sonder meer doodmaak. Jy moet daarmee begin en dan moet die volk jou daarin bystaan.

10. Jy moet hom met klippe doodgooi, want hy wou jou verlei om ontrou te word aan die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

11. “Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so 'n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 13