Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. In dié visioen het ek my in die vestingstad Susan bevind, in die provinsie Elam. Ek sien toe dat ek by die Ulairivier is

3. en toe ek kyk, sien ek 'n skaapram met horings by die rivier staan. Sy horings was lank; die een was langer as die ander en het later as die ander een uitgekom.

4. Ek het die ram na die westekant, die noordekant en die suidekant sien stoot, en geen dier was teen hom opgewasse nie. Niemand was in staat om iemand uit sy mag te red nie. Hy het gemaak wat hy wil en het baie magtig geword.

5. Terwyl ek nog hieraan aandag gee, kom daar uit die weste 'n bokram aan wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie. Dié bokram het 'n opvallende horing tussen sy oë gehad.

6. Hy het aangekom na die skaapram met die twee horings, wat ek by die rivier sien staan het, en hom met alle mag stormgeloop.

7. Ek het gesien hoe hy tot by die skaapram kom, hom briesend stamp en sy twee horings afbreek. Die skaapram was nie opgewasse teen hom nie en hy het die skaapram teen die grond geslinger en hom vermorsel. Daar was niemand wat die skaapram uit sy mag kon red nie.

8. Die bokram het baie magtig geword, maar op die hoogtepunt van sy mag is sy groot horing afgebreek. In dié se plek het daar vier opvallende horings uitgekom; hulle het na die vier windstreke toe gewys.

9. Uit een van die horings het daar 'n horing uitgekom wat eers onaansienlik was, maar toe buitengewoon magtig geword het na die suidekant, na die oostekant en na die pragtige stad se kant toe.

10. Hy het so magtig geword dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het en party van hulle, die sterre, op die grond gegooi en vertrap het.

11. Hy het selfs die Hoof van daardie leërmag aangedurf deur die daaglikse offer aan Hom te verbied en sy heilige woning af te breek.

12. 'n Sondige erediens is in die plek van die daaglikse offer ingestel en die ware godsdiens vertrap. Hierdie horing was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.

13. Ek het 'n hemelwese hoor praat, en 'n ander hemelwese het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge van die visioen aanhou: die ding van die daaglikse offer, die skrikwekkende sonde, die prysgawe van die heiligdom en die vertrapping van die hemelse leërmag?”

14. Hy sê toe vir my: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 8