Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:14-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hy sê toe vir my: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.”

15. Nadat ek, Daniël, die visioen gesien het, het ek gesoek na 'n verklaring daarvoor. Meteens staan daar toe voor my iemand wat soos 'n man lyk,

16. en ek hoor 'n stem uit die Ulai roep: “Gabriël, verklaar vir Daniël die gesig!”

17. Hy het nader gekom na die plek toe waar ek gestaan het, en toe hy by my kom, het ek bang geword en vooroor op die grond geval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mens, dié visioen slaan op die eindtyd.”

18. Terwyl hy met my praat, het ek bewusteloos geraak en daar gelê met my gesig op die grond. Maar hy het my gevat en my op my voete getel

19. en vir my gesê: “Ek sal jou vertel waarop die toorn van God gaan uitloop. Dit gaan oor die eindtyd.

20. Die skaapram met horings wat jy gesien het, staan vir die koninkryk van Medië en Persië.

21. Die harige bokram staan vir die koninkryk van Griekeland, en die groot horing tussen sy oë is die eerste koning.

22. Dat dit afgebreek is en dat daar vier in sy plek gekom het, beteken dat daar vier koninkryke uit daardie nasie sal ontstaan, maar hulle sal nie so sterk soos die eerste wees nie.

23. Teen die einde van hulle heerskappy, wanneer die sonde sy hoogtepunt bereik het, sal 'n hardvogtige en slinkse koning op die toneel verskyn.

24. Hy sal baie sterk word, maar nie deur eie krag nie. Hy sal ongelooflike verwoesting aanrig en sal voorspoedig wees in alles wat hy doen. Hy sal magtiges vernietig, ook die heilige volk.

25. Deur sy vindingrykheid sal hy slaag met sy sluwe optrede. In sy verwaandheid sal hy baie mense goedsmoeds om die lewe bring. Hy sal selfs die hoogste Regeerder uitdaag, maar sal vernietig word sonder die toedoen van 'n mens.

26. Wat oor die aande en oggende aan jou geopenbaar is, sal werklik gebeur. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit sien op die verre toekoms.”

27. Ek, Daniël, was gedaan en het lank siek gelê. Daarna het ek opgestaan en weer my werk in die koning se diens gedoen. Ek was egter ontsteld oor die visioen, en niemand het geweet wat met my aangaan nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 8