Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:19-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou.

20. Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor.

21. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil.

22. Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet.

23. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie.

24. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

25. “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’

26. En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak.

27. ‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind.

28. ‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.”

29. Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk.

30. Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5