Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.”

13. Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda?

14. Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik.

15. Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om 'n uitleg te gee nie.

16. “Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.”

17. Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê.

18. “Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee.

19. Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou.

20. Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor.

21. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil.

22. Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet.

23. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie.

24. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5