Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. So het al die hoë amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, al die hoofamptenare van die provinsie, bymekaargekom vir die wyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het en hulle het voor die beeld gaan staan.

4. 'n Aankondiger het hard geroep: “Alle volke, nasies en taalgroepe, julle word beveel:

5. Wanneer julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument, moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, en dit aanbid.

6. Wie nie buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in 'n brandende oond gegooi word.”

7. Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid.

8. Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het.

9. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe!

10. U het 'n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid.

11. Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in 'n brandende oond gegooi word.

12. Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 3