Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:16-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

17. Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.

18. Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het?

19. Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God!

20. “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here.

21. U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak.

22. Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.

23. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vry gemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vry gemaak het.

24. U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword.

25. En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het,

26. sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word:“ ‘Die Here, die Almagtige,is God van Israel.’“Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan.

27. Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig.

28. “En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak.

29. Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7