Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee.

13. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan.

14. Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty.

15. Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie.

16. Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

17. Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.

18. Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het?

19. Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God!

20. “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here.

21. U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak.

22. Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.

23. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vry gemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vry gemaak het.

24. U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7