Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing,

2. sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in 'n tent.”

3. Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4. Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê:

5. “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon?

6. Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf

7. saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’

8. “Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers.

9. Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde.

10. Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen

11. toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig.

12. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7