Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.”Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring.

13. Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer.

14. Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net 'n linneskouerkleed aan.

15. Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.

16. Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.

17. Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.

18. Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige.

19. Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen 'n ringbrood, 'n bietjie dadels en 'n handvol rosyntjies laat uitdeel.Hierna is almal huis toe,

20. en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos 'n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot.”

21. Hy het vir Mikal geantwoord: “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans.

22. Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederig wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.”

23. En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie 'n kind gehad nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6