Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”

15. Daarna het die Here 'n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf.

16. Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.”Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

17. Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.”

18. Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19. Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het.

20. Toe Arauna afkyk en die koning en sy amptenare na hom toe sien aankom, gaan hy uit en buig diep voor die koning.

21. “Waarom kom die koning na sy dienaar toe?” vra Arauna.“Om die dorsvloer van jou te koop en 'n altaar vir die Here daarop te bou, sodat die plaag van die volk af weggeneem kan word,” antwoord Dawid.

22. Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit, en offer net wat u wil. Kyk, die beeste vir die offer is hier, en die dorsslee en die jukke is beskikbaar as brandhout.

23. U Majesteit, Arauna gee dit alles aan die koning. Mag die Here u God u offer aanneem.”

24. Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.”Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop.

25. Hy het net daar 'n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hierna het die Here weer die gebede vir die land verhoor, en die plaag is uit Israel weggeneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24