Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:31-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. Barsillai die Gileadiet het van Rogelim af gekom vir die koning se oortog oor die Jordaan.

32. Hy was al baie oud, tagtig jaar, en hy het die koning onderhou tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was welgesteld. Hy wou daar by die Jordaan van die koning afskeid neem.

33. Toe sê die koning vir hom: “Kom saam met my, dan sal ek jou in Jerusalem by my onderhou.”

34. Maar hy het vir die koning gesê: “Hoeveel langer het ek nog om te leef dat ek saam met die koning na Jerusalem toe moet optrek?

35. Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning?

36. Waarvoor wil die koning my nou eintlik beloon? Ek wou maar net 'n klein entjie van die Jordaan af saam met u trek.

37. Laat my nou maar omdraai en in my eie stad sterf, by die graf van my pa en ma. Maar kyk, hier is u onderdaan Kimham. Hy kan saam met u gaan, en u kan aan hom doen soos u dit goedvind.”

38. Toe sê die koning: “Kimham kan maar saamgaan. Ek sal vir hom doen wat jy sê. Wat jy ook al van my verwag, sál ek vir hom doen.”

39. Daarna het die hele volk die Jordaan oorgesteek, en die koning het gevolg. Nadat die koning vir Barsillai gesoen en hom voorspoed toegewens het, het hy na sy stad toe teruggegaan.

40. Die koning het by Gilgal verbygetrek, en Kimham saam met hom. Die hele Juda en ook die helfte van Israel het saam met die koning getrek.

41. Toe het al die mense van Israel na die koning toe gekom en gesê: “Waarom het ons broer Juda u gesteel en die koning met sy huisgesin en al die manskappe van Dawid saam met hom oor die Jordaan laat trek?”

42. Die hele Juda het Israel toe geantwoord: “Maar die koning is mos familie van my. Waarom neem jy aanstoot hieraan? Het ons dalk iets van die koning geëet, of is ons op enige manier bevoordeel?”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19