Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:2-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. 'n derde onder leiding van Joab; 'n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”

3. Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”

4. Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.”Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.

5. Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.

6. Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het 'n geveg in die Efraimbos ontstaan,

7. en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was 'n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval.

8. Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9. Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

10. Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan 'n akkerboom sien hang.”

11. Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en 'n eregordel moes gegee het.”

12. Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18