Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:16-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.”

17. Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig.

18. 'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim.

19. Sy vrou het 'n doek oor die put gespan en graan daar oor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie.

20. Absalom se manne het by die huis aangekom en vir die vrou gevra: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”Sy het hulle geantwoord: “Hulle is hiervandaan rivier se kant toe.”Nadat die manne tevergeefs gesoek het, is hulle terug Jerusalem toe.

21. Toe hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en vir Dawid gaan sê: “Trek gou deur die rivier, want Agitofel se raad is gevaarlik vir u.”

22. Die koning en die hele volk by hom het klaargemaak en deur die Jordaan getrek tot ligdag, totdat almal deur die Jordaan was.

23. Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe.

24. Dawid het na Maganajim toe gegaan onderwyl Absalom en die hele Israel deur die Jordaan getrek het.

25. Absalom het vir Amasa in Joab se plek oor die leër aangestel. Amasa was die seun van 'n sekere Ismaeliet Jeter wat gemeenskap gehad het met Abigal dogter van Nagas. Sy was 'n suster van Seruja, Joab se ma.

26. Israel en Absalom het laer opgeslaan in Gilead.

27. Toe Dawid in Maganajim aankom, is daar vir hom beddegoed gebring deur Sobi seun van Nagas van die Ammonitiese stad Rabba, en Makir seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai die Gileadiet van Rogelim.

28. Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies.

29. Hulle het ook heuning, bokmelk en beesmelkkaas gebring sodat Dawid en sy mense kon eet en drink, want hulle het geweet die mense het moeg en honger en dors geword in die woestyn.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17