Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Agitofel het verder vir Absalom gesê: “Laat ek tog twaalf afdelings uitsoek en klaarmaak om Dawid vannag nog agterna te sit.

2. Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal verwarring in sy geledere skep, sodat die hele volk wat by hom is, sal vlug en ek die koning kan doodmaak waar hy alleen is.

3. Dan sal ek die hele volk na u toe laat swaai. Nadat almal oorgeloop het, sal u die gunsteling wees en die hele volk sal eensgesind wees.”

4. Die voorstel het aanneemlik gelyk vir Absalom en die leiers van Israel.

5. Maar Absalom het gesê: “Roep eers vir Gusai die Erekiet. Laat ons ook hoor wat hý te sê het.”

6. Gusai het ingekom, en Absalom het vir hom gesê: “Dit is die voorstel van Agitofel. Moet ons dit aanvaar of nie? Hoe dink jy?”

7. Gusai het geantwoord: “Hierdie keer het Agitofel nie goeie raad gegee nie.

8. U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie.

9. Ek is seker hy kruip nou weg in 'n sloot of op een of ander plek. As daar aan die begin al van u manskappe omkom en dit rugbaar word, sal daar gesê word: ‘Daar was 'n slagting onder die manne wat vir Absalom volg.’

10. Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom.

11. Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk.

12. Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie.

13. As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.”

14. Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.”Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

15. Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17