Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.”Daarom is Absalom huis toe sonder om die koning te sien.

25. In die hele Israel was daar niemand so mooi soos Absalom nie. Die mense het oral daaroor gepraat. Van kop tot tone het hy nie 'n enkele gebrek gehad nie.

26. Teen die einde van die jaar het hy gewoonlik sy hare geskeer, want dit het te swaar geword. Volgens koninklike skaal het sy afgeskeerde hare meer as twee kilogram geweeg.

27. Absalom het drie seuns en 'n dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was 'n baie mooi meisie.

28. Hy was al twee jaar in Jerusalem terug sonder dat hy die koning gesien het.

29. Toe laat Absalom vir Joab roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie kom nie. Hy het hom 'n tweede keer laat roep, maar hy het weer geweier om te kom.

30. Absalom sê toe vir sy slawe: “Kyk, Joab het 'n stuk land net hier langs my. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.”Die slawe van Absalom het toe so gemaak.

31. Toe het Joab gou na Absalom se huis toe gekom. “En waarom steek jou slawe my stuk land aan die brand?” vra Joab vir hom.

32. Hy het geantwoord: “Man, kyk, ek het jou laat weet: ‘Kom hiernatoe; ek wil jou na die koning toe stuur om te vra waarom ek uit Gesur gekom het.’ Dit sou vir my beter gewees het as ek nog daar was. Ek wil nou met die koning praat. As ek skuldig is, laat hy my dan doodmaak.”

33. Joab het dit aan die koning gaan meedeel. Toe laat roep die koning vir Absalom, en hy het gekom. Hy het diep voor die koning gebuig, en die koning het hom gesoen.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14