Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe het daar 'n ding gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad met die naam Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, het op haar verlief geraak.

2. Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar, want sy was nog 'n maagd en dit was vir hom onmoontlik om by haar te kom en iets aan haar te doen.

3. Amnon het 'n vriend gehad. Sy naam was Jonadab, 'n seun van Dawid se broer Samma, en hy was 'n vindingryke man.

4. “Waarom lyk jy wat 'n koningskind is, dag vir dag so bedruk?” het hy vir Amnon gevra. “Vertel my!”“Dis Tamar, my broer Absalom se suster,” was sy antwoord. “Ek is verlief op haar.”

5. Jonadab het hom toe aangeraai: “Gaan lê op jou bed en maak of jy siek is. As jou pa dan kom kyk hoe dit gaan, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog vir my iets te ete bring. Laat sy die ete hier by my kom voorberei dat ek dit kan sien, want ek wil uit haar eie hande eet.”

6. Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom kyk hoe dit gaan, het Amnon vir hom gevra: “Laat my suster Tamar tog asseblief vir my twee hartvormige broodjies hier voor my kom bak sodat ek dit uit haar hande kan eet.”

7. Dawid het 'n boodskap na Tamar by haar woonplek gestuur: “Kom tog na jou broer Amnon se woonplek toe en berei vir hom 'n ete voor.”

8. Tamar het na haar broer se huis toe gekom terwyl hy op sy bed gelê het. Sy het deeg gevat en geknie en die broodjies voorberei en gebak waar hy dit kon sien.

9. Maar toe sy die pan neem en dit vir hom neersit, het Amnon geweier om te eet.Hy het beveel: “Gaan julle ander almal weg hier van my af.”Toe hulle weg is,

10. het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.”Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring.

11. Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.”

12. “Nee, my broer,” sê sy vir hom, “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie 'n dwaas ding doen nie.

13. Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel 'n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13