Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:9-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’

10. “Die Here het die belofte wat Hy gemaak het, nagekom. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou

11. en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met die Israeliete gesluit het, het ek daar gesit.”

12. Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit.

13. Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe

14. en sê:“Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.

15. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

16. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.

17. “Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan.

18. “Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

19. “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig.

20. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid.

21. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

22. “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel,

23. luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

24. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U,

25. luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

26. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6