Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:16-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.

17. “Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan.

18. “Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

19. “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig.

20. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid.

21. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

22. “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel,

23. luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

24. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U,

25. luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

26. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor,

27. luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

28. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref,

29. luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek;

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6