Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 30:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Die hardlopers is toe op bevel van die koning die hele Israel en Juda deur met die briewe van die koning en sy amptenare, wat soos volg gelui het:“Israeliete, kom terug na die Here, na die God van Abraham, Isak en Israel, dan sal Hy ook terugkom na julle wat vrygekom het en oorgebly het van die oorheersing deur die konings van Assirië.

7. Moenie soos julle vaders en julle broers maak nie wat ontrou was teenoor die Here, die God van hulle voorvaders, sodat Hy van hulle iets gemaak het waaroor mense net die hande van verbasing inmekaar kan slaan, soos julle kan sien.

8. Moenie hardkoppig wees soos julle vaders nie, onderwerp julle aan die Here, en kom na sy heiligdom toe wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, dan sal sy toorngloed van julle af weggaan.

9. As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

10. Die hardlopers het in die gebied van Efraim en Manasse en tot in Sebulon van stad tot stad gegaan, maar die mense het hulle uitgelag en gespot.

11. Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 30