Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 25:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Amasia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem.

2. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie.

3. Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare deur wie sy pa, die koning, vermoor is, laat doodmaak.

4. Hy het nie hulle kinders ook laat doodmaak nie, want, soos op bevel van die Here geskrywe staan in die wet, in die boek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

5. Amasia het die manskappe van Juda bymekaar laat kom en hulle familiegewys ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd — die hele Juda, en ook Benjamin. Hy het dié van twintig jaar en ouer laat tel, en daar is gevind dat hulle drie honderd duisend was, geskik vir militêre diens en gewapen met spies en skild.

6. Vir sowat drie en 'n halwe ton silwer het hy uit Israel nog honderd duisend soldate gehuur.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 25