Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”

13. Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan.

14. Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf,

15. en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God.

16. Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop.

17. Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

18. Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon.

19. Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys.

20. Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.”

21. Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20