Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 14:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad.

2. Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God.

3. Hy het die altare van vreemde gode en die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap.

4. Hy het bevel gegee dat Juda aan die Here, die God van hulle voorvaders, gehoorsaam moet wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom.

5. Hy het die hoogtes en die wierookaltare in al die stede van Juda laat verwoes. Onder hom het die land vrede gehad.

6. Omdat die land vrede gehad het, en Asa nie oorlog moes voer nie, het hy in dié jare vestingstede in Juda gebou. Die Here het hom rus gegee,

7. en daarom het hy vir Juda gesê: “Laat ons dié stede versterk met mure en torings, poorte en sluitbalke. Die land is nog ons s'n, want ons is gehoorsaam aan die Here ons God, en Hy het ons na alle kante toe rus gegee.”Hulle was dan ook voorspoedig met die bouwerk.

8. Asa se leër het bestaan uit drie honderd duisend weerbare man uit Juda wat met skild en spies bewapen was, en twee honderd en tagtig duisend uit Benjamin, gewapen met skild en pyl en boog, almal dapper manne.

9. Die Kussiet Serag het Juda binnegeval met 'n leër van 'n miljoen man en met drie honderd strydwaens. Hy het deurgedring tot by Maresa,

10. en daar het Asa hom tegemoet getrek. Die Kussiete was opgestel in die Sefatalaagte by Maresa.

11. Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen 'n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat 'n méns teen U seëvier nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 14