Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:2-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly.

3. Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond.

4. Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”

5. Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.”

6. Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.”

7. Toe Elisa in Damaskus kom, was koning Ben-Hadad van Aram juis siek. Toe hulle hom meedeel dat die man van God daar aangekom het,

8. het die koning vir Gasael gesê: “Neem geskenke saam met jou en gaan na die man van God toe. Gaan raadpleeg die Here deur hom of ek van hierdie siekte gesond sal word.”

9. Gasael het hom tegemoet gegaan met geskenke van allerhande pragtige Damaskusware, 'n vrag vir veertig kamele. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienswillige, koning Ben-Hadad van Aram, het my na u toe gestuur om te vra of hy van sy siekte gesond sal word.”

10. Elisa het vir Gasael gesê: “Gaan sê vir jou koning hy sal nie gesond word nie, want die Here het aan my geopenbaar dat hy sal sterwe.”

11. Die man van God het vir Gasael met 'n strak gesig aangekyk totdat hy verleë geword het. Toe het Elisa in trane uitgebars.

12. “Waarom huil u?” het Gasael gevra.Elisa het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Jy sal hulle vestings in vlamme laat opgaan, hulle jongmanne doodmaak, hulle kindertjies verpletter en hulle swanger vrouens oopsny.”

13. Maar Gasael het gesê: “Ek het nie enige mag nie, hoe sou ek so iets kon doen!”Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.”

14. Gasael het van Elisa af weggegaan en by sy koning gekom. Dié het hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?”Gasael antwoord toe: “Hy het vir my gesê u sal lewe.”

15. Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf.Gasael het hom as koning opgevolg.

16. In die vyfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram seun van Josafat sy pa opgevolg as koning van Juda.

17. Hy was twee en dertig toe hy koning geword het, en hy het ag jaar in Jerusalem geregeer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8