Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 3:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

11. Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan 'n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.

12. Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end.

13. Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie.

14. Daarom bevestig Ek met 'n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”

15. Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel.

16. Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”Hy het gesê: “Ek kom!”

17. Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”

18. Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

19. Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie.

20. Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.

21. Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 3