Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:29-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel.

30. Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het,

31. mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”

32. Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet.

33. Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem.

34. Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”

35. Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.”

36. Toe Abigajil by Nabal kom, het hy in sy huis 'n feesmaal gehad soos 'n koning. Nabal was opgeruimd en baie dronk. Voor die oggend met ligdag het sy hom hoegenaamd niks vertel nie.

37. Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy 'n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam.

38. Omtrent tien dae later het die Here hom weer met 'n aanval getref, en het hy gesterf.

39. Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Geloof sy die Here wat my regsaak behartig het oor die onreg wat Nabal my aangedoen het, en my van kwaad weerhou het. Die Here het Nabal se kwaad op sy eie kop laat afkom.”Daarna het Dawid gestuur en met Abigajil laat praat om haar as vrou vir hom te neem.

40. Die manne van Dawid het by Abigajil die Karmeliet gekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur om u as vrou vir hom te neem.”

41. Sy het opgestaan en gebuig en gesê: “Ag nee, ek wil net 'n slavin wees om die voete van Meneer se manne te was.”

42. Abigajil het toe gou klaargemaak en op 'n donkie gery terwyl haar vyf slavinne te voet gevolg het. Sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword.

43. Dawid was reeds met Aginoam uit Jisreël getroud. Hy het nou twee vrouens gehad.

44. Saul het sy dogter Mikal, die vrou van Dawid, aan Palti die seun van Lajis uit Gallim gegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25