Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Samuel is oorlede, en die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom begrawe by sy huis in Rama.Dawid het klaargemaak en na die Paranwoestyn toe getrek.

2. Daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, 'n baie ryk man. Hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Hy was besig om sy skape in Karmel te skeer.

3. Die naam van die man was Nabal en die naam van sy vrou Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof. Hy was 'n Kalebiet.

4. Toe Dawid in die woestyn verneem dat Nabal skape skeer,

5. het hy tien jong manne gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Karmel toe, en as julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan.

6. En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit!

7. Ek het verneem dat hulle besig is om by u te skeer. U skaapwagters was by ons en ons het hulle nie kwaad aangedoen nie. Hulle het niks vermis solank hulle in Karmel was nie.

8. Vra maar u veewagters sodat hulle dit kan vertel. Wees dan tog my mense goedgesind. Ons het op die regte tyd gekom. Gee asseblief wat u kan afstaan aan u seun Dawid en sy manne.”

9. Die jong manne van Dawid het gekom en Dawid se hele boodskap aan Nabal oorgedra en gewag.

10. Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af.

11. Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”

12. Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel.

13. Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het.

14. Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25