Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:20-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Ek sal drie pyle aan die kant daarvan verby skiet, asof ek na 'n teiken skiet.

21. Dan sal ek my slaaf stuur: ‘Gaan soek die pyle.’ As ek uitdruklik vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is duskant jou; tel hulle op en kom!’ is jy veilig en so seker as die Here leef, daar is dan geen gevaar nie.

22. Maar as ek vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is anderkant jou!’ moet jy weggaan. Dan stuur die Here jou weg.

23. En wat die saak betref waaroor ek en jy gepraat het: onthou, die Here is vir altyd getuie daarvan.”

24. Dawid het toe in die veld weggekruip. Met nuwemaan het die koning by die maaltyd aangesit,

25. en hy het soos gewoonlik op sy plek teen die muur gaan sit. Jonatan het regoor hom gesit en Abner langs Saul. Dawid se leë plek is opgemerk,

26. maar op daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: daar moes iets gebeur het, en hy is dalk nie rein nie, hy mag dalk nie aan tafel kom nie.

27. Die volgende dag van die nuwemaan, die tweede dag, is Dawid se leë plek weer opgemerk.Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai gister en vandag nie na die maaltyd toe gekom nie?”

28. Maar Jonatan het vir Saul geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Betlehem toe te gaan.

29. Hy het gesê: ‘Laat my tog gaan, want ons het 'n familie-offer in die stad. My broer self het my laat roep. As u dit goedvind, laat my dan tog gaan sodat ek my broers kan gaan besoek.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel verskyn nie.”

30. Toe het Saul hom bloedig vererg vir Jonatan en gesê: “Jou rebelse ellendeling! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het.

31. Solank die seun van Isai op hierdie aarde leef, sal daar nie plek wees vir jou en jou koningskap nie. Stuur en bring hom na my toe, hy moet dood!”

32. Daarop het Jonatan sy pa geantwoord en gevra: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?”

33. Toe Saul die spies na Jonatan mik om hom dood te maak, het Jonatan geweet sy pa is vasbeslote om vir Dawid om die lewe te bring.

34. Woedend het Jonatan van die tafel af opgestaan en op die tweede dag van die nuwemaan niks geëet nie omdat hy bekommerd was oor Dawid en omdat Saul vir Dawid so sleg behandel.

35. In die môre het Jonatan volgens sy afspraak met Dawid uitgegaan na die veld toe, en daar was 'n jong slaaf by hom.

36. Hy het vir sy slaaf gesê: “Hardloop, gaan haal die pyle wat ek afskiet.”Die slaaf het gehardloop en Jonatan het die pyl by hom verby geskiet.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20