Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou.

2. Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg.

3. Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.”

4. Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u.

5. Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?”

6. Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19