Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms.Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13. Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

14. Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel.

15. Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is.

16. Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.”

17. Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18. Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.”

19. Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.”

20. Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur.

21. So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het.

22. Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.”

23. Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 16