Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:23-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.Omdat jy die woord van die Here verwerp het,het Hy jou as koning verwerp.”

24. Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.

25. “Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.”

26. Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”

27. Samuel het weggedraai om te loop, maar Saul het die punt van sy mantel gegryp, en dit het geskeur.

28. Toe sê Samuel vir hom: “Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy.

29. Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”

30. “Ek het gesondig,” sê Saul toe. “Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid.”

31. Samuel het met Saul saamgegaan, en Saul het die Here aanbid.

32. Toe beveel Samuel: “Bring vir koning Agag van Amalek na my toe.”Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: “Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”

33. Samuel het vir hom gesê: “Soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma onder die vrouens kinderloos wees.”En Samuel het vir Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15