Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 10:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. En iemand uit die omgewing het bygevoeg: “En waarvandaan kom hulle nogal?”Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete?

13. Toe hy klaar as profeet opgetree het, het hy na die hoogte toe gegaan.

14. Saul se oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waarheen was julle?”Saul het geantwoord: “Ons het die donkies gaan soek, maar ons het niks gesien nie en het toe na Samuel toe gegaan.”

15. Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat Samuel vir julle gesê het.”

16. “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” het Saul vir sy oom gesê.Maar oor die saak van die koningskap wat Samuel genoem het, het Saul niks gesê nie.

17. Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep.

18. Hy het vir die Israeliete gesê: “So het die Here die God van Israel gesê: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat vir julle verdruk het.

19. Maar deurdat julle sê: ‘Nee, U móét 'n koning oor ons aanstel,’ verwerp julle vandag julle God wat vir julle uit alle gevare en verdrukking verlos het. Kom staan dan nou voor die Here volgens julle stamme en julle onderafdelings.”

20. Samuel het al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam Benjamin is aangewys.

21. Samuel het die stam Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van Matar is aangewys. Vervolgens is Saul seun van Kis aangewys, maar toe hulle hom soek, was hy weg.

22. Hulle het die Here gevra: “Moet hy nog kom?”Die Here het geantwoord: “Nee, hy is al hier. Hy kruip weg tussen die bondels goed.”

23. Hulle het gehardloop en hom daarvandaan gebring en hom tussen die volk laat staan. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote.

24. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!”Toe juig almal en sê: “Lank lewe die koning!”

25. Samuel het hierna die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in 'n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarna het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy woonplek toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 10