Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek

5. en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met 'n gawe aan die Here?”

6. Die familiehoofde, die stamhoofde van Israel, die aanvoerders van duisend en van honderd, en die amptenare in beheer van die koning se dienste was almal gewillig.

7. Hulle het vir die tempeldiens honderd een en sewentig ton goud, drie honderd twee en veertig ton silwer, ses honderd en sestien ton brons en drie duisend vier honderd sewe en twintig ton yster bygedra.

8. Wie edelstene by hom gehad het, het dit aan die Gersoniet Jegiël gegee vir die tempelskat.

9. Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.

10. Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid.

11. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe.

12. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak.

13. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam,

14. want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.

15. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29