Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:23-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Salomo het sy plek ingeneem op die troon van die Here as koning in die plek van sy pa. Salomo was voorspoedig en die hele Israel was hom onderdanig.

24. Al die amptenare en die lede van die lyfwag, en ook al koning Dawid se seuns, het 'n eed van trou aan koning Salomo afgelê.

25. Die Here het Salomo hoë aansien in die oë van die hele Israel laat geniet en hom 'n koninklike verhewenheid geskenk wat nie een van die Israelitiese konings voor hom gehad het nie.

26. Dawid seun van Isai het oor die hele Israel geregeer.

27. Hy het veertig jaar lank oor Israel geregeer. Hy was sewe jaar koning in Hebron en drie en dertig jaar in Jerusalem.

28. Hy het op hoë ouderdom gesterf, na 'n vol lewe, ryk en geëerd. Sy seun Salomo het hom as koning opgevolg.

29. Die geskiedenis van koning Dawid, van begin tot einde, is opgeteken in die geskrifte van die siener Samuel, dié van die profeet Natan en dié van die siener Gad,

30. alles oor sy regering, sy heldedade en die tye wat oor hom, oor Israel en oor die koninkryke van die aarde heen gegaan het.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29