Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:19-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. U het hierdie groot ding gedoen, Here, ter wille van u dienaar omdat dit u besluit en wil was, en boonop het U al dié groot dinge aan u dienaar bekend gemaak.

20. Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.

21. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op aarde wat U vir U as volk vry gemaak het. U het u Naam bekend gemaak deur aan nasies groot en vreeslike dinge te doen toe. U hulle verdryf het voor u volk wat U uit Egipte vry gemaak het.

22. U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak. En U, Here, U het hulle God geword.

23. En nou, Here, wat U oor u dienaar en oor sy nageslag gesê het, staan vas vir altyd. Doen tog soos U belowe het,

24. sodat dit vas kan staan en u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: Die Here die Almagtige, die God van Israel, Hy is God van Israel. Die nageslag van u dienaar Dawid bestaan voort voor U.

25. “My God, U het nadruklik vir u dienaar gesê dat U vir hom 'n huis sal vestig, en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om sy gebed tot U te rig.

26. “En nou, Here, U is God. U het hierdie goeie beloftes aan u dienaar gemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17