Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 15:11-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Toe het Dawid die priesters Sadok en Abjatar en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab geroep

12. en vir hulle gesê: “Julle is die familiehoofde van die Leviete. Reinig julle en julle ampsgenote en bring die ark van die Here die God van Israel na die plek toe wat ek daarvoor reggemaak het.

13. Omdat julle dit nie die eerste keer al gedoen het nie, het die Here ons God iemand van ons weggeskeur, want ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie.”

14. Die priesters en die Leviete het hulle toe gereinig om die ark van die Here die God van Israel te gaan haal.

15. Die Leviete het die ark van God met draaghoute op hulle skouers gedra soos Moses beveel het in ooreenstemming met die opdrag van die Here.

16. Verder het Dawid die hoofde van die Leviete beveel om hulle ampsgenote, die sangers, te laat aantree met musiekinstrumente, harpe, liere en simbale, om die feesvreugde hard te laat weergalm.

17. Die Leviete het toe die volgende manne laat aantree: Heman seun van Joël; uit sy ampsgenote Asaf seun van Berekja; uit die Merarigroep hulle ampsgenoot Etan seun van Kusaja.

18. Hulle is bygestaan deur hulle ampsgenote van laer rang, die poortwagte Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom en Jeïel.

19. Die sangers Heman, Asaf en Etan het die kopersimbale geslaan.

20. Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die harpe met die hoë toon bespeel.

21. Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja het die liere met die laer toon ter begeleiding bespeel.

22. Kenanja was leier van die Leviete wat die drawerk gedoen het. Hy het die werk gereël, want hy het geweet hoe.

23. Berekja en Elkana was poortwagte by die ark.

24. Die priesters Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser het die trompette geblaas voor die ark van God uit. Obed-Edom en Jegija was ook poortwagte by die ark.

25. Dawid, die leiers van Israel en die aanvoerders van duisend het die verbondsark van die Here in feestelike stemming uit die huis van Obed-Edom gaan inbring.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 15